Elke oggend bied nuwe geleenthede om gesond en heel te word. Ja, daar is misdaad en ongeregtigheid oral, maar waarop wil jy fokus. Jy kan kies om die oggend in die gat te begin of met ‘n lied in jou hart, maar as jy met die verkeerde voet uit die bed geklim het moet jy ‘n ander plan maak. Ruk jou gesindheid reg en begin om letterlik jou seëninge te tel. Sing ‘n nuwe lied en juig oor God se genade en getrouheid. Jou dag sal onmiddellik beter lyk.
Psalm 59:16-18 Hulle dwaal rond agter prooi aan en as hulle nie genoeg kry nie, tjank hulle. Maar ék sal sing van u mag, elke môre sal ek jubel oor u trou, want U is vir my 'n veilige vesting, 'n skuilplek in tyd van nood. Tot u eer wil ek sing, U, my Sterkte, want U is my veilige vesting, U is my troue God.
My gebed. Here, te midde van al die wêreldse dinge wat om my woed verlang ek na U vrede. Ek is daartoe verbind om elke oggend met U in my hart te begin en U lof te besing. Here, ek kies om U seëninge op elke gebied van my lewe te soek. Ek is geseënd en ek bid vir ons Vriende wat werk nodig het. Here, voorsien asseblief vir hulle en maak die regte deure oop. Amen.

Elke oggend bied nuwe geleenthede.