Die liefde van God sal jou nooit in dieselfde toestand laat as wat jy is wanneer jy tyd saam met Hom spandeer nie. Die liefde van God bring verlossing, genesing en heelheid. Die aanraking van God in jou lewe sal jou met hoop en vrede vul. 'n Dankbare hart is 'n liefdevolle hart.
'n Persoon word soms dankbaar nadat hy ondankbaarheid teëgekom het. Jy word dankbaar omdat jy besef daar is baie om voor dankbaar te wees ten spyte van die lewe se beproewings en moeilike tye. Jy sal sekerlik dankbaar wees wanneer jy die betekenis van die Liefde van Jesus Christus ervaar.
Kolossense 3:15-17 - En die vrede wat Christus gee, moet in julle lewens die deurslag gee. God het julle immers geroep om as lede van een liggaam in vrede met mekaar te lewe. Wees altyd dankbaar. Die boodskap van Christus moet in sy volle rykdom in julle bly. Leer en onderrig mekaar met alle wysheid. Met dankbaarheid in julle harte moet julle psalms, lofgesange en ander geestelike liedere tot eer van God sing. En wat julle ook al sê of doen, sê en doen dit alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.
My gebed. Hemelse Vader, ek loof en dank U vir U liefdevolle getrouheid in die Naam van Jesus Christus. Dankie vir U vrede en die heelheid wat U bring. U is so goed vir my. Amen.

Laat die vrede wat Christus gee, in jou lewe die deurslag gee.