Die lewe hoef nie net een groot gejaag of ‘n konstante geveg te wees nie. Jesus het vir ons die perfekte voorbeeld gestel in die kort tyd wat Hy op aarde was. Die pas waarteen Hy beweeg het was rustig. Daardie rustigheid het Hom toeganklik gemaak en van die grootste wonderwerke het tydens “onderbrekings” gebeur. Sy bediening het ruimte gelaat vir onbeplande oomblikke. Mag jy tyd in jou dag hê vir liefde en welwillendheid wat ander kan help om ook heel te word.
Jesaja 55:8-9: My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede nie soos Myne nie, sê die Here; soos die hemel hoër is as die aarde, so is my optrede verhewe bo julle optrede en my gedagtes bo julle gedagtes.
My gebed. Vader, dit is so maklik om verstrengel te raak in die wêreld van besigwees en gejaagdheid. Dankie vir U vrede en genade. Stuur asseblief die regte mense op die regte tyd oor my pad. Gee my asseblief om ‘n baken van U lig, vrede en goedhartigheid te wees in ons deurmekaar wêreld. U is die Prins van Vrede. U is my HERE. Amen.

Daar is altyd tyd en geleentheid vir liefde en welwillendheid.