![]() |
Konflikhantering: Wen/wen Dilemmas Wen/wen Dilemmas Deur Ds Barbara Louw Verlede maand het ons
gepraat oor hanteringstyle en opponente. Ons het afgesluit met die
gedagte dat dit beter is om jou opponent te sien as ‘n vennoot en dat
dit beter is om ‘n gesindheid te hê van “Ek wil wen, maar ek wil hê
jy moet ook wen.” Jy stoei dalk met baie
argumente tussen jou en jou lewensmaat of tussen jou en jou tiener. Dit
is die moeite werd om ‘n nuwe benadering te volg, voordat
onherstelbare skade aan die verhouding gedoen word. Die voordeel van die
wen-wen-gesindheid is dat dit selfs kan werk in verhoudings waar daar
relatief min vertroue is. Jy hoef dus nie ‘n vals altruïstiese
houding in te neem nie, omdat albei partye eenvoudig probeer om konflik
op ‘n wedersyds voordelige manier op te los. Waar begin ‘n mens? Die
eerste belangrike aspek om in gedagte te hou is TYDSBEREKENING. Jy gaan
nie ‘n positiewe kommunikasieproses aan die gang kry as jou
tydsberekening swak is nie. Dit is nie wys om die begroting te probeer
bespreek as almal in die huis laat is vir skool en werk nie. Die hitte
van ‘n argument is altyd slegte tydsberekening, omdat niemand kan
luister nie, want almal is besig om te verdedig. Die tweede belangrike aspek
is: WAAR. Moet asseblief nie met jou tiener voor kuiermense in ‘n
debat betrokke raak nie. Dit sal noodwendig op ‘n argument uitloop of
‘n gekrenkte stilte, waar een of albei party verneder voel. Die derde aspek is: HOE. As jy
persoonlike aanmerkings of opmerkings maak oor ‘n skoonfamilielid of
‘n vriend is dit vet op die vuur! As jy vir jou eggenoot sê: “jou
suster is ongeskik” of “jou
broer is suinig”, mag dit waar wees, maar jy dwing jou eggenoot om
daardie ongeskikte suster of suinige broer te verdedig. Jy kan dus
tegnies reg wees, maar die manier wat jy die saak aanpak is baie onwys.
Dieselfde situasie ontstaan as jy vir jou tiener sê dat ‘n maat ‘n
slegte invloed op hom/haar het. Dit mag waar wees, maar jy dwing jou
kind om daardie maat te verdedig. In enige rustige gesprek
kan is dit moeilik om die beginsel van regverdigheid te verwerp. ‘n
Goeie openingsin sal dus wees: “Kom ons kyk wat wil elkeen van ons hê...”
of “Kom ons kyk wat is
regverdig vir albei van ons...” Dit is ‘n aanduiding dat jy nie wil
baklei nie, maar dat julle saam na ‘n oplossing kan soek. Om konflik suksesvol op te
los is dat nodig om baie te luister en om vrae te vra om meer te wete te
kom van die ander persoon se gevoelens en behoeftes. Jou kind is dalk
vriende met die maat (wat jy as ‘n slegte invloed beskou), uit
jammerte as gevolg van daardie kind se omstandighede of die maat is dalk
die enigste persoon wat pouse met jou kind gesels. Wanneer julle albei rustig
is en ‘n geskikte geleentheid het om die probleem in die oë te kyk is
dit belangrik om te vra: “Wat dink jy is die beste oplossing van die
probleem?”; “Watter waardes is vir jou belangrik in die situasie?”
of “Wat is jou ware behoefte in die situasie?” Die antwoorde op die vrae
gaan ‘n drastiese verskil maak aan die besprekingsagenda. Jy het eers
die regte inligting nodig vóórdat julle die probleem suksesvol gaan
oplos. Terloops, jy skep in die proses ook vir jouself die geleentheid
om jou behoeftes uit te spreek. Ek werk daagliks met mense
wat kom vir berading en wanneer ek vra wat hul grootste behoefte is, is
dit net een ding. Hulle het nodig om gehoor te word. Hulle het nodig dat
iemand sal luister. Ja, hulle wil nie hê ek moet die probleem uit hul
hande neem en oplos nie. Hulle wil net hê dat iemand moet luister. Nou dink jy dalk jy kan nie
altyd ‘n wen-wen-oplossing vind nie. Kom ons kyk na ‘n paar
voorbeelde van dilemmas: 1. Jou vriend wat net altyd
gunste vra en nooit bereid is om te help nie. Die boodskap wat jy kan
oordra is: “Ek wil waardeer jou vriendskap, maar ek voel dit is
moeilik as jy niks in ons vriendskap belê nie.” 2. Jy doen sake met ‘n
firma wat lyk of hulle op bankrotskap afstuur. Moet jou besigheid nog
julle dienste aan die firma verskaf? Die boodskap wat jy moet oordra is:
“ Ek besef dat julle op die stadium in ‘n moeilike finansiële
situasie is, maar my besigheid kan nie bekostig om nie betaal te word
nie. Ek moet vra vir kontant by aflewering. Sal die betaling makliker
wees as ons liewer kleiner hoeveelhede meer gereeld aflewer?” 3. Dan is jy dalk in ‘n
situasie waar jou kollega aansoek doen vir dieselfde
bevorderingsgeleentheid as waarop jy jou oog het. Bly stil en hou op
bekommer oor ander. Konsentreer op jou eie werk en jou eie gesindheid.
Kompetisie is ‘n geleentheid om te presteer. Of jy die bevordering kry
of nie is nie so belangrik, as dat jy altyd jou beste sal doen. Doen
alles asof jy die vir die Here doen. 4. Wat doen ‘n mens as
jou teenstander (byvoorbeeld op die sportveld of besigheidswêreld) groter, sterker of beter is? Bly
rustig stil en werk om jy tekortkominge te verbeter eerder as om iemand
ander af te kraak. 5. Hoe gemaak as iemand nie
wil saamwerk nie? Dit is belangrik om steeds ‘n wen-wen-houding te
behou. Daar is waarde en voordele in samewerking. Dit is nie net ‘n
manipulasie-foefie nie. As jou gesinslid nie wil
saamwerk nie, moet jy hulle nie afskryf of “uit vries” nie. Hou aan
om daardie mens met liefde te ondersteun. Dit beteken dat jy nie swak
gedrag moet duld nie, maar maak dit duidelik hoeveel ondersteuning jy
wil gee. ‘n Wen-wen-benadering is
soms ‘n lang proses en die eindresultaat is belangrik. Dit is
belangrik om by beter keuses, wedersydse respek, toewyding (commitment)
en welwillendheid uit te kom. Waar twee partye saam oplossings vind is
albei meer toegewyd om daardie oplossings te implementeer en deur te
voer. |
Wynand & Barbara Louw, Founders of ITN.
|