Opponente of Vennote

Konflikhantering: Opponente of vennote

Ds B Louw

 Konflik is deel van ons daaglikse lewe. Sommige mense glo dat konflik net sleg en nadelig is. Soms is ‘n mens so vasgevang in jou eie groewe dat jy vergeet om na probleme te kyk deur ander se oë.

 Wanneer ‘n mens konflik gewaar of beleef kan jy kies hoe jy dit wil benader. Soms vergeet jy dat jy ‘n keuse het en reageer dan met ‘n aggressiewe kap. Dalk glo jy jou reaksie is relatief neutraal, maar baie “neutrale” reaksies is eintlik al gewoontes wat jy deur die jare versamel het.

 Daar is verskillende konflikhantering gewoontes, soos onttrekking; onderdrukking; wen/verloor; kompromie of ‘n poging waar almal wen.

 Onttrekking

‘n Mens kan fisies uit konflik onttrek, deur byvoorbeeld die vertrek te verlaat of die telefoon neer te sit. Jy kan ook emosioneel onttrek deur eenvoudig stil te bly, arms te vou en ander pad te kyk. Ander onttrekkingsreaksies:

  • Om net op te hou praat
  • Uit te storm
  • Seergemaak onttrek
  • Om wrokke te hou
  • Om depressief te raak
  • Die koue skouer te gee
  • Sterk, krenkende opmerkings te maak
  • Mense eenvoudig uit jou lewe te verban

 Mense onttrek gewoonlik omdat hulle bang is vir konfrontasie of omdat hulle voel hulle word nie gehoor nie. Daar is ook situasies waar mense ontrrek omdat daar nie aan hul mening toegegee word nie. Onttrekking is in baie gevalle ‘n vorm van manipulasie of ‘n manier om die “opponent” te straf, in plaas daarvan om konstruktief by te dra tot probleemoplossing. Die manipulasie en straf kan ‘n manier wees om iemand, doelbewus of onbewustelik, van mening te laat verander.

 Dit is egter wys om te onttrek uit ‘n plofbare situasie as dit niks met jou te doen het en jou “bydra” geen verskil aan die uitkoms gaan maak nie.

 Onderdrukking

“Alles ter wille van vrede” of om stil te bly “ter wille van vrede” is baie gevaarlik, want dit kan beteken dat jy stilswyende goedkeuring gee aan goddelose dinge.

 Vir sommige mense is dit makliker om te weier om te erken dat daar konflik is, maar dit plaas ongekende druk op ‘n verhouding. Al bly jy met jou mond stil oor die ongedurigheid in jou binneste word dit ‘n sweer wat jou van binne opknaag. Daardie sweer kan groei en groei totdat dit ‘n emosionele kanker word wat jou en jou vennote vernietig.

 Onttrekking kul die mense om jou, want al kan hulle sien en voel iets pla het hulle nie die geleentheid om ‘n verskil te maak nie.

Vorme van onderdrukking is:

  • Maak asof niks gebeur het/fout is nie
  • Ploeg net voort, ongeag…
  • Baklei met jouself omdat jy ontsteld is
  • Gebruik sjarme/heuningkwas om jou sin te kry
  • Bly tjoepstil in die situasie en kerm en kla later
  • Krop al jou “onaangename” gevoelens op

 Wen/verloor

Die wen/verloor gewoonte is soms deel van ‘n  onbewuste drang om jouself te beskerm teen die pynlike gevoel as jy moet erken jy is verkeerd. Dit is eenvoudig ‘n magstryd waar net een mens reg kan wees en waar daar net een wenner mag triomfeer. (Ek verwys nie na ‘n gesagsverhouding waar ‘n bestuurder, ouer of onderwyser beheer van ‘n gegewe situasie moet vat nie.)

 Wen/verloor is, op die lange duur, nie ‘n goeie konflikhanteringsmetode in verhoudings nie. Vandag se verloorder mag jou dalk net more in die steek laat. Is jou konflikhanteringstaktiek een van die volgende:

  • Fokus daarop om te bewys ander is verkeerd?
  • Dikbek trek totdat iemand toegee aan jou wil?
  • Verskreeu jou “opponent”?
  • Fisies geweldadig raak?
  • Weier om “nee” vir ‘n antwoord te aanvaar?
  • Mense te probeer uitoorlê?
  • Dreigemente?

 ‘n Kompromie

Dit is ‘n benadering wat met ‘n mate van sukses in onderhandelinge in die sakewêreld aangewend word.

 In verhoudings beteken dit egter dat elkeen iets op offer en aan die einde is albei partye ewe ontevrede, want gewoonlik moet een mens meer op offer as die ander. Die algemeenste vorm van kompromie aangaan is om toe te gee “ter wille van die vriendskap” of spesifieke soort verhouding.

 Die vier vorme van konflikhantering is die algemeenste hanteringstyle, maar dit is nie die enigstes nie. Daar is egter ‘n benadering waar almal kan wen.

 “n Wen/wen-strategie is om jou opponent te sien as ‘n vennoot. Dit is om die gesindheid te hê van “Ek wil wen, maar ek wil hê jy moet ook wen”. Dit is ‘n “ons” benadering waar twee mense saam werk om by ‘n nuwe, beter oplossing uit te kom. Die voordeel van die benadering is dat dit verhoudings laat groei en albei partye wen, omdat albei probeer om ‘n oplossing te vind.

 Jy kan by die strategie uitkom deur die volgende te probeer:

  • Definieer die ander persoon se behoefte
  • Behou jou waardes en ondersteun die ander persoon
  • Maak onderskeid tussen die probleem en die persoon
  • Konsentreer op wat regverdig is, in plaas van om toe te gee aan druk
  • Werk hard aan die probleem en sag met mens

 Konflik word dikwels gekompliseer deur wat in jou gedagtes aangaan. Die advies uit die Woord van God is:

 

“Wees altyd bly in die Here!

Ek herhaal: Wees bly!

Wees inskiklik teenoor alle mense.

Die Here is naby.

Moet oor niks besorg wees nie,

Maar maak in alles julle begeertes deur gebed

En smeking en met danksegging aan God bekend.

En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan,

Sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.

Verder, broers, alles wat waar is,

Alles wat edel is,

Alles wat reg is,

Alles wat rein is,

Alles wat mooi is,

Alles wat prysenswaardig is –

Watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees –

Daarop moet julle julle gedagtes rig.

En wat julle van my geleer en ontvang het,

En gehoor en gesien het, dit moet julle doen.

En God wat vrede gee, sal by julle wees.”

(Fil 4:4-9)  

 



"We pray that we will be able to help people to see the grace of God and to reach their full potential through our Ministries."


" We are committed to help people to come in a dynamic relationship with God, because then they will be at peace with themselves and they will be able to work at their relationships with others."

Wynand & Barbara Louw, Founders of ITN.


"My personal goal is to encourage al least one person a day and I know that will make a difference."
Barbara Louw CEO for ITN.

 

Nexus Nuus*News