Verskuilde Potentiaal



"We pray that we will be able to help people to see the grace of God and to reach their full potential through our Ministries."


" We are committed to help people to come in a dynamic relationship with God, because then they will be at peace with themselves and they will be able to work at their relationships with others."

Wynand & Barbara Louw, Founders of ITN.


"My personal goal is to encourage al least one person a day and I know that will make a difference."
Barbara Louw CEO for ITN.

 

Deur Ds Wynand Louw

Elke skildery, beeldhouwerk en musiekstuk, is die produk van iemand wat hulle potensiaal vrygelaat het. Hulle potensiaal het die wêreld se erfenis geword, sodat ons dit kan ervaar en beleef. So het die skrywers van die Bybel dan ook vir ons ‘n erfenis nagelaat. Dit stel ons in staat om vandag die Bybel te kan lees en só die Woord van God uit te leef en te vervul.

Elkeen van ons kom in die wêreld met ‘n taak of roeping om te vervul. Ons is nie net op aarde per toeval of per ongeluk nie. God gee aan ons die opdrag om iets van waarde na te laat vir ons nageslag waaruit hulle kan leer en waardeur hulle geïnspireer kan word. Die vermoë om die opdragte te vervul lê binne elkeen van ons opgesluit. Die gereedskap is ons natuurlike gawes en ambisie.

Wat met mense in die lewe gebeur, kan baie verskil, maar dieselfde lot wag vir almal—vir die wat aan God gehoorsaam is en vir die ongehoorsames, vir die wat skoon leef en vir die wat ’n vuil lewe lei, vir die wat aan God offer en vir die wat nie offer nie, vir goeie mense en vir slegtes, vir die wat ’n eed aflê en vir die wat dit nie doen nie. In ons ondervinding op aarde lyk dit dan onregverdig dat almal dieselfde moet deurmaak, maar tog bly die mense se geaardheid vol verkeerde dinge en is hulle hulle lewe lank met onsinnige gedagtes besig, en so gaan hulle die dood in, sonder uitsondering. Maar solank daar lewe is, is daar hoop, want die spreekwoord sê: “’n Lewendige hond is beter as ’n dooie leeu.” Die wat nog leef, besef ten minste dat hulle sal doodgaan, maar die wat dood is, weet glad niks nie. Vir hulle is daar nie meer ’n beloning nie, en mense vergeet hulle. Hulle het finaal by die einde gekom. Vir hulle bestaan liefde en haat en ambisie nie meer nie. Hulle is absoluut uitgesluit van enige aandeel aan die dinge wat op die wêreld gebeur. Eet dus die kos wat jy het en geniet dit; drink die wyn wat jy het en wees opgewek. Aanvaar die lewe, want God het jou reeds aanvaar. Trek jou mooiste klere aan en versorg jou hare met geurige olie. Geniet die lewe saam met jou vrou wat jy liefhet solank as wat God jou toelaat om hier op aarde te lewe—want dit gaan gou verby. Dit is wat jy kry vir al die harde werk en die moeite wat jy in hierdie lewe het. Watter werk daar ook al vir jou is om te doen, doen dit so goed as jy kan, want in die dood is daar nie meer kans vir werk of dink of vir begrip of insig nie, en dit is waarheen jy ook op pad is.” (Pred. 9:2-10)

 Volgens Prediker is ’n lewende hond is beter as ’n dooie leeu! (Pred. 9:4) ’n Hond is in die Bybelse samelewing as ’n veragtelike dier beskou. Kyk gerus na (1 Kon. 21:19, 24). Die leeu was weer ’n koninklike dier gesien (Spr. 19:12). Met bitter ironie toon die Prediker aan dat “waar daar lewe is, is daar hoop”. ‘n Manlike prostituut was letterlik in die oorspronklike Hebreeus ’n hond genoem. Ons sien dan ook dat die naam Kaleb in Hebreeus ook “hond” beteken.

Ons kan egter in ons samelewing en ons era baie mooi dinge van ’n hond sê. Dink maar aan die eienskappe wat jou eie hond openbaar.  ‘n Hond:

  • is getrou,
  • beskerm sy mense,
  • luister na sy baas se stem en
  • voer sy eienaar bevele uit.

Net so was dit waar van Kaleb, die seun van Jefunne, ten spyte van die feit dat sy naam hond beteken het. Oor Kaleb word daar ook die mooiste verhaal vertel. Hy was werklik iemand wat die goeie eienskappe van die hond openbaar het. Kaleb was die een spioen wat saam met Joshua die beloofde land gaan verken het, en ‘n baie positiewe verslag gegee het oor die land.

God kan maklik die rolle van mense in die lewe omkeer. Wie vandag bo is, is môre onder, en andersom. Hy sê immers in sy Woord dat die wat eerste is sal laaste wees en die wat laaste is sal eerste wees.

So het Kaleb, wat saam met Josua verstote was deur die vorige geslag Israeliete, vanweë hulle vertroue op God (Num. 13), die nuwe eienaar van Hebron geword. God beloon Kaleb so vir sy troue geloof, al het baie jare verloop sedert hulle terug gekom het vanaf die verkenningstog in die beloofde land.

Hebron het sy vorige naam, Kirjat-Arba, te danke aan ’n reusagtige Enakiet, Arba, wat ’n groot man onder die Enakiete was. Dit het weereens bevestig dat God die lot van Kaleb verander het. So het ’n “hond” die plek geneem van ’n sterk reus. Soms werk kwaaddoeners met ’n tydtafel wat verklaar: die tyd behoort aan ons. Maar die spreekwoord lui: elke hond kry sy dag.  (Eseg. 30). Hier het Kaleb (‘Hond”) ook sy dag in die Here gekry. God sal nooit ongeregtigheid laat seëvier nie al lyk en voel dit so vir ons.

Sir Winston Churchill het eendag gesê  "The price of greatness is responsibility". So het ons ook die verantwoordelikheid om ons verskuilde potensiaal wat God aan ons gegee het te ontgin en grootsheid te bereik.  Elkeen van ons kom in die wêreld in met ‘n onbeperkte hoeveelheid potensiaal in ons opgesluit. Ons kan baie meer vermag as wat ons ooit tot dusver gedoen het. In (Gen. 1:12) lees ons Daar het allerhande soorte plante op die aarde te voorskyn gekom—elkeen met sy eie soort saad en sy eie soort vrugte.” (Lewende Bybel)

Indien ons nie besig is om vrug op te lewer nie is ons besig om dood te gaan. Dood in sy eenvoudigste vorm, is die beëindiging van potensiaal. Die beëindiging of verwerping van ons potensiaal is die dood van ons en ander se toekoms. Dit affekteer generasie na generasie. Vir Petrus (2 Pet. 2:18b-22) is dit baie erg dat sommige gelowiges, onder wie ook jongmense uit gelowige gesinne (2 Pet.. 3:4) die dom pad van die sogenaamde wêreldse vryheid wil volg. Laat jou waarsku deur die afskuwelike beeld van die hond en die vark waarna Petrus verwys (2 Pet.2:22).

Om te keer dat jou lewe só uitdraai, moet jy na Jesus terugkeer en elke dag sy wederkoms verwag. Met God se genade en krag moet jy jou lewe inrig volgens Bybelse maatstawwe. Daarin sal jy ’n vervulde lewe en die ware vryheid ontdek. Vryheid om as God se kind te lewe! Vryheid om God se kosbare gawes te erf en uit te leef.

Jonk of oud, man of vrou, seun of dogter, arm of ryk, almal het ewe veel potensiaal. Net soos tyd, hang alles af wat jy daarmee maak. Daar is byvoorbeeld met die navorsing van kinders bevind dat op 4 jarige ouderdom 95% van hulle baie vindingryk was, daarteenoor is bevind dat dieselfde kinders op die ouderdom van 7 weer getoets is en toe is dit bevind dat slegs 40% van hulle nog die selfde vlak van vindingrykheid openbaar. Deur die ontmoediging van kinders om vindingryk te wees, vernietig ons potensiaal wat God in elkeen van daardie kinders geplaas het.

Op watter vlak van jou potensiaal leef jy tans? Dit hang af van waarmee en met wie jy jou assosieer. Meer nog, jou potensiaal lê alreeds by die besluite wat jy neem.

Jou geboorte is bewys dat God geweet het dat die wêreld jou potensiaal nodig het wat binne jou opgesluit lê.  Indien jy jou verantwoordelikheid om ons potensiaal te ontwikkel abdikeer, roof jy die wêreld van ‘n skat wat net jy aan die planeet en sy mense kan gee.

Ek wil u uitdaag om nie net op u louere te sit en te wag vir die lewe om verby te gaan nie, maar daadwerklik iets te doen. Begin daardie stokperdjie waaroor jy so lankal dink. Begin die onderwerp (sterrekunde, argeologie, botanie, ens.) waaroor jy solank al wonder bestudeer. Kry ‘n kwas of potlood en skep daardie prentjie wat in jou gemoed brand.

Dit maak nie saak hoe oud u is nie, dit is nooit te laat om te begin nie. Vandag is die dag deur die Heer gemaak.

Aquilla Gazette   

Nexus Nuus*News

March 2002